Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou: Skenk ook ons die krag, o Heer!
Om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vadere Vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, Teen die hele wereld vry. Soos ons vadere vertrou
het, Leer ook ons vertrou, o Heer: Met ons land en met ons nasie Sal dit wel
wees, God regeer.

Stuur gerus goeie berigte en foto's na dieousuidafrika@yahoo.com
Facebook groep --> http://www.facebook.com/johanpottie.potgieter?ref=tn_tnmn#!/pages/Die-ou-Suid-Afrika-nuus/116236538438826

Thursday, September 20, 2012

Cosatu begroot R13 miljoen vir sy konferensie

Deur: Jan-Jan Joubert en Maryna Lamprecht2012-09-20 06:00


JOHANNESBURG. – Die vakverbond Cosatu het voorlopig meer as R13 miljoen begroot vir sy nasionale konferensie, wat nou in Midrand aan die gang is, luidens dokumente in Beeld, susterkoerant van Volksblad, se besit.
Luidens die voorlopige begroting kos die huur van die ruimte by Gallagher Estate in Midrand byna R7 miljoen – R6999837,48 om presies te wees.
Dit sluit middagete, aandete, tee en koffie vir die 4000 afgevaardigdes in, asook die klankstelsel en groot skerms vir die beeldsending van die gebeure in die vergadersaal.
Vir die opstel, druk en verspreiding van die amptelike dokumente op die kongres is R850000 begroot. Dit sluit die Cosatu-grondwet, resolusies, notules, die verslag van die sekretariaat en die organisatoriese verslag in.
’n Groot uitgawe is die inhoud van die drasakke, wat só ’n kenmerk van konferensies geword het en waarvan elkeen van die 4000 afgevaardigdes een ontvang.
Die sakke self kos R600 elk en bevat ’n gholfhemp ter waarde van R150, ’n ander hemp ter waarde van R250, ander kleding ter waarde van R100 en ’n pet ter waarde van R35.
Altesame kos die 4000 drasakke en hul inhoud dus R4540000.
Die naamkaartjies en die snoere waarmee dit om die nek gedra word, kos R20000.
Dit sluit naamkaartjies vir personeel, gaste, afgevaardigdes, diensverskaffers, uitstallers en die media in.
Uitgawes verbonde aan die versiering van die saal, die verhoog en die lokaal vir die vakverbond se kultuuraand beloop R90000.
Die kultuuraand self sou na verwagting R250000 kos.
’n Uitgawe wat die wenkbroue kan laat lig, is die R120000 wat vir die leierskapverkiesing begroot is, hoewel dit dalk kan verander met die onbestrede herkiesing van verskeie leiersfigure.
Reis en verblyf bly ’n groot uitgawe, met R55000 wat vir vliegkaartjies begroot is.
Die verwagte koste aan verblyf vir Cosatu se leiers, personeel en spesiale gaste beloop R140000.
Dat sommiges meen vakbondkongresse is ’n goeie plek vir kinders, blyk uit die R5000 wat vir kinderoppassers begroot is, en wat die totale begrote bedrag vir die kongres op R13,069 miljoen te staan bring.
Patrick Craven, Cosatu-woordvoerder, het by navraag gesê hy en sy kollegas is tans te besig met vakbondkwessies om die akkuraatheid van die dokumente na te gaan en hulle gaan nie kommentaar lewer nie.
Borgskappe deur groot maatskappye, wat dan die reg kry om uitstallings op die konferensie te bedryf, help Cosatu om die uitgawes te bekostig.
African Rainbow Metals (ARM), myngroep van die sakereus Patrice Motsepe, speel ’n groot rol in die finansiering van die konferensie.
Ander maatskappye wat uitstal, is Discovery, Investec, ubank (vroeër bekend as Teba Bank), VMS Technologies, die projek vir hernubare energie en klimaatverandering, die opleidingsowerheid vir vervaardiging, ingenieurswese en verwante bedrywe (merSETA), Sanlam en Ou Mutual.


Volksblad

http://m.news24.com/volksblad/Suid-Afrika/Nuus/Cosatu-begroot-R13-miljoen-vir-sy-konferensie-20120919

No comments:

Post a Comment