In laasweek se provinsiale verkiesing het die Parti Quebecois (PQ), wat staan vir Franse selfbeskikking en kultuurregte, en uiteindelik onafhanklikheid van Engelssprekende Kanada nastreef, gewen.
Dit kom na 8 jaar in die opposisie en ‘n swak vertoning in die laaste verkiesing 4 jaar gelede, waar die PQ al afgeskryf is as ‘n party sonder toekoms.
Die PQ het 54 setels verower, wat wel nie genoeg is vir ‘n volstrekte meerderheid nie. Quebec (en Kanada) het die kiesafdelingstelsel. Die PQ se leier, Pauline Marois, sal waarskynlik met ‘n minderheidsregering regeer.
Persentasiegewys het die PQ 32% van die stemme gekry, voor die laas-regerende Liberale Party van premier Jean Charest wat tweede gekom het met 31% en 50 setels. Charest het egter sy eie setel verloor.
Die Koalisie vir ‘n Toekoms vir Quebec het derde geëindig met 27% en 19 setels.
Die oorwinningseremonie van die PQ is oorskadu deur ‘n skietaanval, toe ‘n middeljarige man tydens mev Marois se toespraak met skote losgebars het en een mens doodgeskiet en ‘n ander ernstig gewond het. Na bewering het hy in Frans geskree: “Die Engelse word wakker”, dus was sy daad waarskynlik polities van aard in protes teen die PQ se oorwinning.
Mev Marois het reeds aangekondig dat, soos wat die geleentheid hom voordoen, sy die saak van onafhanklikheid weer op die agenda sal plaas. Tans is die steun vir onafhanklikheid nog te min. Sy sal wel verdere wette instel om die Franse kultuur en taal teen die oormagtige Engelse streek te verdedig.
Behalwe vir die nasionalistiese sentiment is die oorwinning vir die PQ ook toe te skryf aan die toenemende ongewildheid van mnr Charest, wat met ‘n langdurige en grootskaalse betoging van studente vir gratis universiteitsopleiding gesit het en dit onsimpatiek hanteer het. Ook die swak ekonomiese toestand van Quebec het bygedra tot mnr Charest se neerlaag.
Die Franssprekendes het ook meer sosialisties-liberale sienings as die Engelssprekende Kanadese, in ooreenstemming met hulle onderskeidelike stamlande. Deur die bestendige bestuur van belastinggeld en lae werkloosheid kan sekere sosialistiese voordele, bv. byna gratis onderwys en medies, suksesvol geïmplementeer word. Steun vir die PQ was ook ‘n stem teen die konserwatiewe Kanadese regering van eerste minister Steven Harper.
Ook omgewingsentiment het ‘n rol gespeel, met mnr Harper wat nie ‘n ooreenkoms oor klimaatbeskerming wil onderteken nie en die groen lig vir grootskaalse besoedelende oliesand-ontginning gegee het.
Die PQ en mev Marois se oorwinning en moontlike strategie het parallelle met die Skotse Nasionale Party en hulle leier Alex Salmond. Sowat 6 jaar gelede het die SNP ook ‘n minderheidsregering gevorm, 4 jaar met ‘n gewilde sosialisties-liberale beleid regeer en hulle steun vergroot na die verkiesing in 2011.
Met die volstrekte meerderheid kon mnr Salmond die saak van onafhanklikheid op die agenda plaas en die omstandighede en tydrooster vir ‘n referendum bepaal. As mev Marois slim is doen sy dieselfde.
http://rozmeyer.wordpress.com/2012/09/10/separatiste-wen-quebec-provinsie/
No comments:
Post a Comment