Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou: Skenk ook ons die krag, o Heer!
Om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vadere Vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, Teen die hele wereld vry. Soos ons vadere vertrou
het, Leer ook ons vertrou, o Heer: Met ons land en met ons nasie Sal dit wel
wees, God regeer.

Stuur gerus goeie berigte en foto's na dieousuidafrika@yahoo.com
Facebook groep --> http://www.facebook.com/johanpottie.potgieter?ref=tn_tnmn#!/pages/Die-ou-Suid-Afrika-nuus/116236538438826

Monday, September 10, 2012

‘Soos skape geslag’

2012-09-10 22:21
 

Nico Kruger, seun van die Fouries.
Verwante skakels






TROMPSBURG. – Tonele van verslaentheid en hartseer het gister hier op die plaas Knoppe afgespeel nadat ’n geliefde boer en sy vrou, wat “twee keer sou dink om ’n vlieg dood te maak”, deur moordenaars “soos skape geslag is”.

Johan Fourie (71) en sy vrou, Cecile (72), is eergister in hul plaashuis oorval en vermoedelik met ’n byl doodgekap.

Gesoute speurders het gesê dit was een van die grusaamste moordtonele wat hulle nog gesien het.

Bloed het matte, teëls, mure en deure regdeur die huis bevlek.

In die sit- en slaapkamer van die huis het bottels drank gestaan wat die moordenaars gedrink het terwyl die Fourie-egpaar die oggenddiens in die NG Kerk op die dorp bygewoon het.

“Dit is my pa, hy is doodgemaak... wat kan ek sê?” het ’n getraumatiseerde Louis-Chris Fourie gesê toe hy met ’n sportsak vol van sy ouers se besittings uit die moordhuis gestap het.

Die moordenaars het vermoedelik toegang tot die huis deur ’n badkamervenster verkry en die bejaarde paar ingewag terwyl hulle by die kerk was en by hul kinders op die dorp gekuier het.

Die Fouries het omstreeks 15:00 teruggekeer na hul plaas sowat 10km buite die dorp.

Phillip Henning, bekende boer in die distrik wat ’n plaasaanval oorleef het, het gesê.“Johan was ’n ou wat twee keer sou dink voordat hy ’n vlieg sou doodmaak. Hulle was wonderlike mense.

“Hy het geweet hoe lief ek vir turksvye is en het gereeld vir my gestuur.”

Fanie Lubbe, buurman van die Fouries, sê die egpaar wou altyd almal help. “Hulle was wragtig die sout van die aarde.”

Lubbe sê só ’n moord laat ’n mens weer eens besef hoe weerloos boere is. “’n Mens raak ouer. Jy het nie meer die krag van ’n jonger man nie. Wat doen jy as hulle (aanvallers) jou inwag?”

Nico Kruger, nog ’n seun van die Fouries, sê die wreedheid van die moord is erg.

“Dis buitensporig. Dit slaan ’n ou dronk. Wat sou die motief wees?”

Slegs ’n .22-rewolwer word vermis.

Die moordenaars het die vuurwapenkluis met ’n hoeksnyer oopgesny.

Fourie se ander vuurwapens en ’n mes is op die toneel gekry.

Bure het onraad vermoed toe die Fouries nie hul telefoon beantwoord het of op die roep op die Marnet-radio gereageer het nie.

Die lyke van die egpaar is Sondag omstreeks 20:00 in hul slaapkamer gekry.

Henning sê die Trompsburg-boere is van die paraatste in die Vrystaat.

Die polisie volg verskeie leidrade op, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die Fouries word oorleef deur hul twee seuns, ’n dogter Christa van Heerden, twee skoondogters, ’n skoonseun en ses kleinkinders.

Enigiemand met inligting kan ao. Michael Bouckes by 079-893-9504 bel.



Bloed het die hele huis vol gelê ná die dubbele moord op die boere-egpaar


Johan Fourie se bebloede bril by ’n Bybel. Die Fouries het van ’n kerkdiens af teruggekom toe hulle in hul plaashuis vermoor is. Foto’s: Conrad Bornman


Johan en Cecile Fourie



- Volksblad

http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Soos-skape-geslag-20120910

No comments:

Post a Comment