Voedselsekerheid is ’n sleutelfaktor vir maatskaplik politieke stabiliteit en sal die plek van tradisionele kommoditeite soos edelmetale as die mees gesogte hulpbron oorneem soos wat die wêreldbevolking groei.
Gareth Ackerman, voorsitter van Pick n Pay, het Woensdag op die Verbruikersgoedereraad se jaarlikse konferensie gesê dat selfs die kleinste toename in voedselpryse aansienlik gaan wees.
Dit gaan veral die armste 30% van die bevolking tref omdat inflasie vir selfs die mees basiese voedselmandjie wesenlik hoër gaan wees.
“Daar is geen sentrale internasionale beplanning om voldoende voedselvoorraad as ’n buffer op te bou nie. Voedsel word deur die mark beheer en nie deur logika nie.
Daarom is dit onvermydelik, hoewel verkeerd, dat boere en kleinhandelaars vir sulke verhogings blameer word.”
Volgens hom moet verbruikers en die regering die aard van die voedselwaardeketting verstaan om doeltreffende meganismes te ontwikkel om voortgesette voedselprysverhogings te hanteer.
“Ons moet ’n manier vind om voedselpryse laer te dwing in die Suid-Afrikaanse waardeketting – daarom moet ons buitelandse mededinging verwelkom.”
Ackerman het gesê dat gesonde mededinging tussen kleinhandelaars die geleentheid skep om pryse te verlaag, maar daar sal steeds samewerking tussen die kleinhandelgroepe moet wees om oorkoepelend laer pryse aan te dryf.
Hy is ook van mening dat voedselsekerheid van kernwaarde vir maatskaplik politieke stabiliteit is.
“Ons kan net kyk na die politieke uitval deur die Lonmin- en die vragmotordrywerstaking om te sien dat ekonomiese sekerheid die bron van politieke sekerheid is.
Hoe minder mense het om te verloor hoe ’n hoër risiko is hulle vir sekuriteit in die algemeen.
“Die skerp styging in voedselpryse in 2007 en 2008 was hoofsaaklik aangevuur deur oliepryse se uitwerking op produksiekoste, maar dit het tot voedselonsekerheid en oproer gelei van Egipte tot Mosambiek en Mexiko.
“Dit was ’n aansporing vir die sogenaamde Arabiese Lente. Regerings wat nie die kwesbare aard daarvan erken nie, doen dit op eie risiko.”
http://www.sake24.com/Maatskappye/Kleinhandel/Ackerman-Kos-sal-meer-werd-word-as-goud-20121015
No comments:
Post a Comment