Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou: Skenk ook ons die krag, o Heer!
Om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vadere Vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, Teen die hele wereld vry. Soos ons vadere vertrou
het, Leer ook ons vertrou, o Heer: Met ons land en met ons nasie Sal dit wel
wees, God regeer.

Stuur gerus goeie berigte en foto's na dieousuidafrika@yahoo.com
Facebook groep --> http://www.facebook.com/johanpottie.potgieter?ref=tn_tnmn#!/pages/Die-ou-Suid-Afrika-nuus/116236538438826

Saturday, October 6, 2012

Staat gee blanko tjek vir bouwerk

2012-10-06 05:00

KAAPSTAD.– Die regering het in werklikheid ’n blanko tjek uitgereik vir verbeterings aan pres. Jacob Zuma se private woning in KwaZulu-Natal.

Luidens berigte beloop die koste reeds minstens R203miljoen, maar dit kan heelwat meer wees omdat verskeie staatsdepartemente werk aan die kompleks gedoen het.

Die departement van openbare werke het gister op ’n nuuskonferensie oor die kwessie geweier om te sê wat die koste is en bloot volgehou dat dié inligting vertroulik is. Ander departemente het dieselfde verweer gehad.

Mandisa Fatyela-Lindie, waarnemende direkteur-generaal van openbare werke, het gesê die departement se begroting vir die Zuma-konstruksiewerk is deel van die departement se prestige-portefeulje. “Alles wat ons bestee onder dié portefeulje is geklassifiseer. Dié projek val ook onder prestige en is dus geklassifiseerde inligting.”

Uit die departement se jaarstate van die afgelope twee jaar blyk dit dat die departement eers in 2010-’11 dié geheime prestige-portefeulje-klassifikasie begin gebruik het.

Luidens die state het die departement in die jongste boekjaar tot 31 Maart 2012 sowat R67,2miljoen deur dié geheime rekening gesit. In die vorige boekjaar was die bedrag R71miljoen, dus was daar in dié twee jaar R138,2miljoen deur dié fonds.

Dit is onseker of dié geld alles vir Zuma se woning gebruik is, maar volgens die departement is dié rekening vir die bouwerk gebruik.

Fatyela-Lindie het gesê die ouditeur-generaal het die geklassifiseerde inligting geoudit.

“Julle kan jul geluk by hulle gaan probeer,” het sy gesê oor vrae na meer besonderhede rondom die Nkandla-onkostes.

Thulas Nxesi, minister van openbare werke, het gesê die werk en die geheimhouding daar rondom word toegelaat danksy die ministeriële handboek en verskeie wette, soos die Wet op Nasionale Sleutelpunte en verskeie verdedigingswette.

Nxesi het gesê die werk aan Zuma se private woning was genoodsaak nadat ’n ontleding van die veiligheidsmaatreëls rondom die kompleks gedoen is.

Hy het gesê hy het met ’n ondersoek begin om te bepaal hoe die media “geheime dokumente” in die hande gekry het wat die bouwerk op die lappe gebring het.)Nkandla en ander geheime – bl.8



- Die Burger
http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Staat-gee-blanko-tjek-vir-bouwerk-20121006

No comments:

Post a Comment