Eben Meiring
Saterdag vier die helfte van die planeet Kersfees.Maar soos die meeste gelowiges besef, is 25 Desember nie regtig Christus se geboortedag nie. Om die waarheid te sê, 25Desember het histories min te make met Kersfees.
Die meeste kenners is dit eens dat die beskikbare bewyse daarop dui dat Christus se geboorte nie in Desember kon gewees het nie – nie met die veewagters en hul diere buite in die winterkoue van die Heilige Land nie.
Heelwat ander maande is al voorgestel – soos Januarie, Maart, April, Mei, September – almal keuses wat meestal op ingewikkelde berekenings gegrond is.
Maar waarom vier ons dan Kersfees in Desember?
Die antwoord moet gesoek word in ’n ou, mitologiese tradisie.
Lank, lank voordat enigeen nog van Christus gehoor het, was laat Desember ’n wilde, loslit Romeinse fees, die Saturnusfees. Dié jolyt het op 17 Desember begin en kon tot ’n week daarna nog aanhou.
Op die daaropvolgende kalenderdae, die begin van Januarie, is die Dies Natalis Invicti Solis, die “verjaardag van die onoorwonne son” met sy terugkerende gloed en lig herdenk.
So het die Romeine hul god van gesaaides, Saturnus, vereer as deel van hul wintersonstilstand-vierings. Die Saturnusfees, wat deur die Latynse digter Catullus beskryf is as “die lekkerste van almal”, het sy feesstatus bly behou tot die vierde eeu n.C., toe dit as Brumalia (afgelei van die woord “bruma”, wat beteken “kortste dag”) bekend gestaan het.
In 336 n.C. het keiser Konstantyn die eerste Kersfees “amptelik” op 25 Desember laat vier. Veertien jaar later het pous Julius I besluit die geboorte van Christus sou voortaan op 25 Desember herdenk word. (’n Ander bron noem die jaar 440.) Op dié manier het die pous gehoop om die heidense Romeine makliker te bekeer. So sou hulle immers hul fees behou.
Maar daar is nog heidense tradisies wat reeds eeue gelede in Noord-Europa wortel geskiet en ook later deel van die Christelike kalender geword het.
Die Nore het hul eie wintersonstilstand, bekend as Yule, gehad. Dit was die Teutoonse embleem van die terugkerende son.
Die woord kan beteken “(son)wiel” en “suigeling”, albei simbolies van die Persiese songod Mithra se geboorte.
Dié god was trouens besonder gewild by Romeinse legioensoldate wat in die vreemde geveg en sodoende die geloof vinnig deur die Romeinse Ryk laat versprei het. Skrywers wat die spektrum dek van Vergilius tot Chaucer gebruik die wiel onder meer in ’n astrologiese sin.
In Angel-Saksies het Yule (“Yole”) Desember beteken. Die woord leef natuurlik voort in die verwysing na die Kerstyd as “Yuletide” en ook in “Yule logs”.
’n “Yule log” is ’n yslike stomp wat jy in die Kerstyd in die kaggel aan die brand hou en is later ook gebruik om te verwys na ’n stompvormige Kerskoek.
“Yule cakes” is weer in die vorm van ’n baba of wiegie gemaak.
Dit was indertyd ook die gewoonte om lewende immergroen bome die huis in te dra as simbool van hernuwende groei. Keltiese priesters het dikwels bome in hul gewyde rituele gebruik.
Nog ’n tradisie was om die grootste stomp in ’n bos dorp toe te sleep en dit dan 12 dae lank aan die brand te hou (vandaar glo die “12 dae van Kersfees”).
Volgens ’n internet-bron is die vroegste Kersfees in 1541 met ’n kersboom gevier in Elsas, toe nog ’n Duitse streek. ’n Geskokte Lutherse predikant het glo uitgeroep: “Hulle moet eerder na die ware boom van die lewe, Christus, kyk.”
Ons moderne Kersfees loop ook ’n mitologiese draai deur die Midde-Ooste.
In ou Babilonië is die fees van die seun van Isis ook op 25 Desember gevier. Isis was die Egiptiese oppergodin, die godin van die aarde, wysheid en hergeboorte, asook die moeder van die latere songod Horus.
Isis, as lewegewende vroue- figuur en vergestalting van volkome vrouwees, is deur die ganse Grieks-Romeinse wêreld aanbid.
In die vierde eeu het van haar volgelinge die vroegste madonna-kultusse in die Weste gestig om haar invloed te laat voortleef. Antieke afbeeldings van Isis met Horus op haar skoot het voorstellings van die “moeder en kind”-tema eeue lank inspireer.
Deur Horus kan ons nog ’n hele paar religieuse koppels na Egipte maak – van die vissimboliek, vorstelike geskenke vir die heilige baba en die doen van wonderwerke tot die dood en wederopstanding van die god en sy beoordeling van die dooies.
Verder oos, in die hindoe-god Krishna, loop ons ’n Indiese eweknie van Christus raak. In gewyde geskrifte is Krishna uit die maagd Devaki gebore en deur herders aanbid. Hy het ontkom aan die slagting van nuutgebore babas, is gekruisig en het opgestaan uit die dood.
25 Desember het dus histories weinig met Christus te doen.
Dis ’n kunsmatige, gerieflike, gekaapte en mensgemaakte datum.
G’n wonder dit word kommersieel so skandalig uitgebuit nie.
http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Die-mitologie-van-Kersfees-20101216
No comments:
Post a Comment