Landsburgers het in die derde kwartaal van vanjaar 72,2% méér opgedok aan munisipale dienste as in dieselfde tydperk twee jaar gelede.
Munisipale belasting en dienstegeld per jaar is inderdaad nou feitlik gelykstaande aan die totale bedrag wat Suid-Afrikaners aan persoonlike belasting betaal. Vir dié reuse-bydrae kry ons egter bitter min waarde vir geld, sê mnr. Mike Schüssler, direkteur van Economists.co.za, wat dié syfers bekend gemaak het.
Volgens Schüssler is die uitwerking van dié groot stygings gelykstaande aan ’n rentekoersstyging van 3,37 persentasiepunte.
“Dit is geen wonder die rentekoersverlagings het nie die gewenste uitwerking om verbruikersbesteding aan die gang te kry nie. ’n Groot deel van dié besparings word opgeslurp deur munisipale rekeninge,” sê Schüssler.
Schüssler sê die R51,7?miljard wat die publiek in die derde kwartaal aan munisipaliteite betaal het, is 7,8% van die kwartaallikse bruto binnelandse produk (BBP) – dié persentasie was twee jaar gelede 5,17%.
Munisipaliteite verg toenemend ’n groter deel van die BBP en die belastinglas op landsburgers word al hoe groter, sê Schüssler. “As dit so aangaan, sal al die geld oor vyf jaar na die staat gaan,” sê Schüssler. “Die situasie is nie volhoubaar nie.”
Hy sê plaaslike owerhede moet hul koste sny, en munisipale amptenare se salarisse is te groot. “Daar is nie te min geld nie. Munisipaliteite is hopeloos ondoeltreffend.” Schüssler sê die feit dat munisipaliteite se uitstaande debiteure voortdurend styg, is ’n teken dat verbruikers leeggetap is.
Volgens syfers wat die nasionale tesourie verlede week bekend gemaak het, het verbruikers teen einde September 12,4% meer aan metrorade geskuld as ’n jaar gelede. In Johannesburg was die toename 23,5%. In sekondêre stede het die uitstaande skuld met 18,3% toegeneem. Meer as 60% van dié skuld is in huishoudings gesetel.
Mnr. Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, sê die skerp styging in munisipale koste is boonop nie eweredig onder landsburgers versprei nie. Vir die middelklas, wat maklik opspoorbaar is en blykbaar kan betaal, is die styging waarskynlik nog groter.
Hy sê as die ekonomie vanjaar met 3% groei, kan die voordele van dié groei vir die individu verlore wees omdat hy meer en meer aan sy plaaslike owerheid moet opdok. Die grootste bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie is dat die staat in duie stort, sê Roodt.
“Dit kan jy reeds op munisipale vlak sien.”
Hy sê munisipaliteite is net veronderstel om dienste te lewer en moet dus in der waarheid net geld verdien uit heffings. Inderdaad is hulle egter besig met ’n herverdelingsfunksie wat by die sentrale regering hoort. “Só herverdeel ons net armoede,” sê Roodt.
Volgens die oorsig oor munisipale begrotings op mediumtermyn, wat die tesourie ook verlede week bekend gemaak het, sal munisipaliteite se begrotings oor die volgende twee jaar met ’n verdere 25% toeneem.
No comments:
Post a Comment