Jana van der Merwe en MJ Lourens
Lindley. – Plaasaanvallers het ’n driejarige meisietjie alleen na ’n buitekamer geneem en haar koelbloedig doodgeskiet – vermoedelik omdat hulle bang was sy sou hulle later kon uitken.
Daarna het hulle haar lykie – nog met ’n pienk strikkie in haar rooi haartjies – gevat en by die lyk van haar ma in die hoofslaapkamer van die plaashuis gaan gooi.
Na verneem word, is klein Willemien Potgieter en haar ma, Wilna (36), albei in teregstelling-styl in die agterkop geskiet.
Willemientjie, soos sy genoem is, se pa, mnr. Attie Potgieter (40), se lyk is later buite langs ’n heining naby die huis se agterdeur aangetref.
Die aanvallers het hom vermoedelik hier oorval en met ’n skerp voorwerp, vermoedelik ’n panga, op die agterkop doodgekap, en vermoedelik ook met ’n tuinvurk gesteek.
Toe hulle padgee, het die moordenaars die volgende boodskap in Sotho op ’n stuk karton op die hek van die plaas Twee-fontein gelos: “Ons het hulle doodgemaak. Ons kom terug.”
Drie plaaswerkers is gister in verband met die drie moorde in hegtenis geneem, en later die dag nog twee verdagtes, onder wie glo ’n 17-jarige, in townships in die omgewing.
Teen druktyd gisteraand was nog ’n verdagte soek.
Die Potgieter-egpaar sou vandeesweek hul 11de huweliksherdenking gevier het.
“Dis nog half onwerklik. Dit was ’n bitter, bitter groot skok,” het mnr. Arno Potgieter van die buurplaas Van Tondersrust gister oor die moorde op sy broer, skoonsuster en Willemien gesê.
Die lyke is gisteroggend gekry.
Die gesin was vermoedelik tydens die aanval alleen tuis. Daar was glo nog ’n bord kos in die mikrogolfoond.
By die besoek van Beeld se susterskoerant Volksblad gister vroeg aan die plaas het mnr. Potgieter se lyk nog toegegooi onder ’n pienk kombers gelê op die plek waar hy dood is.
Na verneem word, het mnr. Potgieter vermoedelik eergistermiddag sowat R7 000 kontant vir lone gaan trek.
Die drie verdagtes wat in die townships woon, het die plaaswerkers na bewering elk sowat R500 betaal vir inligting oor die gesin se bewegings.
Mev. Potgieter, wat jare lank by die Oos-Vrystaat Kaap Bedryf (OVK) se Arlington-tak gewerk het, was ten tyde van haar dood assistent-takbestuurder.
Mnr. Potgieter het net toesig gehou oor Tweefontein vir mnr. Alex Macaskill, wat op Marquard woon, en self op die naburige plaas, waar sy broer Arno woon, met beeste geboer.
Die verdagtes is ná flinke werk van polisielede van verskeie Vrystaatse eenhede in hegtenis geneem.
Volgens kol. Sam Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, is die meeste van die verdagtes in die 20.
Bebloede kredietkaarte en ’n bebloede 9 mm-vuurwapen is in ’n plakkershut naby Lindley gevind. Nog ’n vuurwapen is later op die toneel gekry.
Charles Smith berig mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se komitee vir landelike veiligheid, het in sy reaksie gesê Suid-Afrika behoort hom te skaam vir dié mense in sy bevolking wat ’n driejarige kind en haar ouers wreed vermoor.
“Die kind was géén bedreiging vir hulle nie.
“Jy kan net een gevolgtrekking maak: Dit is ’n siek gemeenskap, ’n siek samelewing en dis siek mense wat dit doen.”
Die ses mans het “tot die uiterste gegaan” terwyl hulle die Potgieters waarskynlik net kon beroof het.
“Dit sê iets van ons samelewing. Hier is ’n gebrek aan moraliteit en ’n gebrek aan respek vir mense se lewe.”
Die regering het wel onlangs sy stem begin dik maak oor misdaad, maar ná die gru-moorde is niks gesê nie, het Botha gesê.
“Ek wonder hoekom is hulle nou so stil?” het hy gevra.
“Watter kans het ’n vrou en kind teen ses mans? Om daarna nog die man in te wag en ook te vermoor, is barbaars.”
Die moorde is nie die ANC se skuld nie, maar is ’n “lafhartige voorval van misdaad”.
“Die vraag is wat die res van ons doen.
“Die vraag is wat doen hul gemeenskap met sulke mense. Hulle moet dié mense uitspoeg,” het Botha gesê.
Politieke partye en die burgerregte-organisasie AfriForum het ook gister sterk op die moorde gereageer en weer verwys na die moontlike uitwerking van omstrede slagspreuke en struggle-liedjies met woorde soos “dubul’ ibhunu” (skiet die Boer).
No comments:
Post a Comment