Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou: Skenk ook ons die krag, o Heer!
Om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vadere Vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, Teen die hele wereld vry. Soos ons vadere vertrou
het, Leer ook ons vertrou, o Heer: Met ons land en met ons nasie Sal dit wel
wees, God regeer.

Stuur gerus goeie berigte en foto's na dieousuidafrika@yahoo.com
Facebook groep --> http://www.facebook.com/johanpottie.potgieter?ref=tn_tnmn#!/pages/Die-ou-Suid-Afrika-nuus/116236538438826

Sunday, January 9, 2011

Matrieks: Uit met waarheid!

Gershwin Chuenyane en Carien Kruger

Druk op onderwysowerhede neem toe om met die volle sak patats vorendag te kom oor vanjaar se onverwags goeie matriekuitslae, wat ten spyte van die ontwrigte onderwysjaar met 7,2 persentasiepunte gestyg het.
Van sowel binne die eksamenwaghond Umalusi as die Wes-Kaapse regering is daar nou ’n aandrang dat oop kaarte gespeel en die ware feite bekend gemaak word.
Die twee belangrikste onbeantwoorde vrae vir diegene wat wonder oor die geloofwaardigheid van die ongelooflik goeie uitslae is:
* Hoekom was daar soveel minder heeltydse kandidate in alle provinsies buiten die Wes-Kaap en Limpopo, en hoe strook dit met die land se bevolkingsgroei?
* Hoe is die drastiese styging in die slaagsyfer vir lewenswetenskappe, wiskundige geletterdheid en fisiese wetenskappe statisties regverdigbaar?
By navraag het prof. John Aitchison, lid van Umalusi se standaardisasie­komitee, die weiering om inligting openbaar te maak as “ontstellend” (appalling) beskryf.
“Alle bruikbare inligting oor die matriekeksamen behoort algemeen beskikbaar te wees, want ons het dit nodig om korrekte evaluerings van die eksamenstelsel te maak,” sê hy.
Me. Helen Zille, Wes-Kaapse premier, sê: “Dis uiters belangrik om die geloofwaardigheid van die matrieksertifikaat te behou.
“As vrae ontstaan, moet dit gestel, behoorlik ondersoek en beantwoord word. Dis die enigste manier om ’n geloofwaardige matriek(sertifikaat) te beskerm – en geloofwaardigheid is noodsaaklik vir elke leerling, die onderwysstelsel en die land in die geheel.”
Op die vraag oor die getal kandidate het dr. Granville Whittle, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, gesê die 2010-matriekgroep was baie kleiner.
Die departement het nie tans ’n verklaring daarvoor nie.
Verlede jaar se 537543 voltydse matrieks is 14530 minder as 2009 se getal van 552073.
Daarteenoor het die getal deeltydse kandidate nasionaal van 39255 tot 82835 gestyg.
Dit lei tot bewerings dat skole swakker leerlinge dwing om deeltydse leerlinge te word om hul slaagsyfers goed te laat lyk.
Whittle sê ’n mens moet in gedagte hou dat die eerste matriekeksamen volgens die nuwe kurrikulum in 2008 geskryf is.
Toe was daar net 1116 deeltydse kandidate.
Die deeltydse kandidate van 2009 sou die herhalers van die vorige jaar wees en dié van 2010 die herhalers van die vorige twee jaar.
Van 2002 tot 2006 het die deeltydse kandidate tussen 103 604 en 120 672 gewissel.
Wat die aanpassing van punte betref, weier Umalusi tans om bekend te maak watter 19 van die 58 vakke se punte aangepas is, asook hoe en met hoeveel dit gedoen is.
Dit maak ’n behoorlike ontleding onmoontlik.
Umalusi het Vrydag ná verskeie versoeke om deursigtigheid in ’n verklaring gesê die standaardiseringsproses is vertroulik, maar het nie na enige wetgewing daaroor verwys nie.
Dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, sê vertroulikheid is “in die belang van individuele leerlinge en die hele onderwysstelsel” en die standaardiseringsproses is “baie ingewikkeld, tegnies en kwalitatief”.
’n Bron in Umalusi het aan City Press, Rapport se susterkoerant, gesê die ware redes waarom besonderhede oor aanpassings nie bekend gemaak word nie, is:
* Universiteite kan leerlinge se punte verwerp omdat dit nie ’n ware weergawe van hul akademiese vermoë is nie;
* Leerlinge kan beurse verloor;
* Dit kan leerlinge wat oorsee wil studeer, benadeel; en
* Nie alle punte word aangepas nie en goeie leerlinge wie se punte sonder verandering aanvaar is kan dus benadeel word.
Die bron het gesê voordat inligting bekend gemaak kon word, sou Umalusi se raad eers moes vergader en dit sou nie voor vandag kon gebeur nie.
Pres. Jacob Zuma het gister die goeie matriekuitslae verwelkom.
Politieke kenners meen die goeie uitslae sal die kritiek op die ANC se hantering van verlede jaar se onderwysstaking voor vanjaar se munisipale verkiesing laat afneem.

http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Matrieks-Uit-met-waarheid-20110108

No comments:

Post a Comment