Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou: Skenk ook ons die krag, o Heer!
Om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vadere Vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, Teen die hele wereld vry. Soos ons vadere vertrou
het, Leer ook ons vertrou, o Heer: Met ons land en met ons nasie Sal dit wel
wees, God regeer.

Stuur gerus goeie berigte en foto's na dieousuidafrika@yahoo.com
Facebook groep --> http://www.facebook.com/johanpottie.potgieter?ref=tn_tnmn#!/pages/Die-ou-Suid-Afrika-nuus/116236538438826

Sunday, January 9, 2011

Zuma: 2011 is die jaar vir grondhervorming

Jan-Jan Joubert

Grondhervorming moet vanjaar aan die gang kom, het pres. Jacob Zuma gister in die Peter Mokaba-stadion buite Polokwane (Pietersburg) ter viering van die ANC se 99ste bestaansjaar gesê.
“Grondhervorming sal voortaan gegrond wees op die opheffing van rasgegronde grondeienaarskap op die platteland,” het Zuma teenoor derduisende ANC-ondersteuners onderneem.
Hy het hom ook tot voedselsekerheid verbind.
“Om meer grond vir grondhervorming en restitusie beskikbaar te hê, oorweeg die regering drie vorme van grondeienaarskap: huurpag op staatsgrond, beperkte eienaarskap van grond in private besit, en dat buitelanders voortaan slegs grond sal kan huur, maar dat die grond steeds aan Suid-Afrikaners sal behoort.”
Die regering is van voorneme om verdere wetgewing in te stel om plaaswerkers en -inwoners selfs verder te beskerm.
Zuma, wie se toespraak ’n verkorte weergawe van die ANC se 8 Januarie-verklaring was, het die woorde voor hom bykans ’n uur lank in ’n eentonige stem afgelees en soms oor die woorde gestruikel.
Hy het werkskepping as die regering se belangrikste prioriteit vir die jaar uitgesonder, met die stelling dat, hoewel daar goed gevorder is met die politieke bevryding van Suid-Afrikaners, ekonomiese bevryding nog nie gebeur het nie.
Met dié woorde het hy aangesluit by die meer aktivistiese boodskap van die ANC-jeugleier, mnr. Julius Malema, wat die skare in sy voormalige tuisdorp rasend gehad het met sy aandrang op nasionalisering.
“Politieke bevryding is sinloos sonder ekonomiese bevryding.
“Die ekonomie moet lyk soos die parlement. Dit kan nie in die hande van wit mans bly nie,” het Malema in sy toesprakie van sowat drie minute gebulder.
Zuma was versigtiger en het op werkgeleenthede eerder as ras-argumente gefokus.
Sy argumente het gestrook met die regering se ekonomiese groeiplan, soos onlangs deur mnr. Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, bekend gestel.
Zuma het daarop gewys dat ekonomiese groei, soos Suid-Afrika die afgelope sowat ’n dekade beleef het, van weinig waarde is as dit nie met werkskepping gepaardgaan nie.
Hy het nie gereageer op die kritiek dat die regering se pogings om alle betrekkings met byvoordele te formaliseer sal lei tot werkverliese omdat dit koste van indiensneming sal opjaag nie.
Zuma het ANC-lede aangemoedig om “die DA uit die Wes-Kaap te verdryf en alle IVP-wyke af te vat” in die munisipale verkiesing, maar geen verkiesingsdatum aangekondig nie.
Die ANC-leier het sy partylede gevra om meer eensgesind te wees, minder in die openbaar te baklei en om nie korrup te wees nie, want “die ANC is nié korrup nie”.
Zuma het gesê tydraamwerke vir ’n nasionale gesondheidversekeringsplan moet vasgestel word en het weer die transformasie van die media aangeroer, hoewel hy nie ’n mediatribunaal as ’n moontlikheid genoem het nie.

http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Zuma-2011-is-die-jaar-vir-grondhervorming-20110108

No comments:

Post a Comment