2012-08-23 22:39
SENEKAL. – ’n Boer van dié distrik was gister verpletter nadat 15 van sy vlagskip-ooie se keel vir hul vleis deur booswigte afgesny is.
Van Wyk Schutte (75) van die plaas Trekpad het gisteroggend op die ooie afgekom nadat hulle die vorige aand wreedaardig geslag is.
Al die merino-ooie het tweelinglammers gehad. Van die lammers het op die afgesnyde kop van hul ma’s aan die slaap geraak.
“Ek het nog nooit ’n man so hartseer gesien soos vandag (gister) nie. Hy boer al voltyds vandat hy 16 jaar oud is,” het Schutte se seun, Rian, gister oor sy pa gesê.
Die ooie het sowat ’n week gelede begin lam. Sowat 30 lammers is nou wees gelaat.
“Dit was ons beste teelskape,” het Rian gesê.
Hy sê ’n werker sal nou voltyds na die hanslammers moet omsien en hulle surrogaatmelk voer. Boere in die distrik wat ’n melkboerdery bedryf, het gister van hul melk aan Schutte afgestaan.
“Ons het hulle (die ooie) juis toegemaak vir die jakkalse, maar nou is dit maklik vir die veediewe om te slag,” het Rian gesê.
Hy het die polisie geprys vir hul flink optrede.
Kapt. Phumelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van veediefstal word ondersoek.
Nog niemand is in hegtenis geneem nie.
-
Volksblad
http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Hartverskeurende-toneel-na-skaapslagting-20120823
Hoeveel van hierdie soort dade wil jy nog hê,voordat jy besef waar jou plig lê, liberalis?
ReplyDelete