Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou: Skenk ook ons die krag, o Heer!
Om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vadere Vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, Teen die hele wereld vry. Soos ons vadere vertrou
het, Leer ook ons vertrou, o Heer: Met ons land en met ons nasie Sal dit wel
wees, God regeer.

Stuur gerus goeie berigte en foto's na dieousuidafrika@yahoo.com
Facebook groep --> http://www.facebook.com/johanpottie.potgieter?ref=tn_tnmn#!/pages/Die-ou-Suid-Afrika-nuus/116236538438826

Sunday, January 27, 2013

ENB: Ja, baas!

2013-01-27 00:02

Die bank wat dit gewaag het om jongmense se kritiek oor korrupsie, armoede en misdaad onder die regering se neus te vryf is die naweek vir slapgatte uitgekryt nadat hulle gebuig het voor die “boelies” van die ANC.

Ses jaar nadat Eerste Nasionale Bank (ENB) geswig het onder ANC-druk om ’n advertensieveldtog teen misdaad te laat vaar het dieselfde bank Vrydag om verskoning gevra dat sy “Jy kan help”-veldtog vertolk is as ’n aanval op die regerende ANC.

Die ANC is ’n rekeninghouer van ENB. ’n Bemarkingsfoendie het aan Rapport gesê die bank kon ’n miljard rand se inkomste verloor het as die ANC sy dreigemente sou uitvoer om die bankgroep te boikot.

Eerder as om aan te hou veg het Sizwe Nxasana, uitvoerende hoof van FirstRand, teenoor Gwede Mantashe van die ANC onderneem “so iets sal nooit weer gebeur nie” nadat hy Vrydag na Luthuli-huis ontbied is.

Nxasana moes verduidelik waarom ENB videogrepe op YouTube geplaas het waarin kinders die regering kap.

FirstRand is die beheermaatskappy van ENB, wat die videogrepe blitsig verwyder het ná skerp aanvalle deur die ANC en sy ligas.

“Die ANC se leiers en lede wou weet hoekom dié organisasie moet aanhou bank by ’n bank wat hom (die ANC) teenstaan,” het Jackson Mthembu, woordvoerder, gesê.

Woedende Suid-Afrikaners het op sosiale netwerke en die nuuswerf Nuus24 daarop aangedring dat dr. Michael Jordaan, ENB se baas, bedank en die bank uitgekryt vir “kruiperig” voor die ANC, “slapgat” en bang.

Hulle kort “balls”, het een twiet gelui. Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het op Facebook gesê hy vrees vir sy land.

“Ek is diep teleurgesteld dat ENB geskarrel het om jammer te sê dat hy kinders se stemme hoorbaar gemaak het. Besef ENB hoeveel bloed gestort is vir die reg om te sê wat jy dink?”

Aandeelhouers het die bank se base waarskynlik geen keuse gelaat nie, meen dr. Thomas Oosthuizen, ’n bemarkingstrateeg met 30 jaar ervaring.

“Dis ’n genoteerde maatskappy met aandeelhouers.

“Jy moet sakebesluite opweeg ongeag wat jou persoonlike mening is.

“’n Bank kan miljarde rande aan inkomste verloor as hy die ANC te gereeld verkeerd opvryf,” het hy gesê.

Agt maande gelede het Rapport se susterkoerant City Press en Johannesburg se Goodman-galery ook geswig voor ANC-druk om Brett Murray se skildery The Spear van ’n webwerf en uit die galery te verwyder nadat die ANC met boikotte, geweld en die vernietiging van die skildery gedreig het.

“Die ANC kan doen net wat hy wil. Ons het die boelie-gedrag gesien met The Spear. Ons sien elke keer dieselfde patroon,” het Oosthuizen gesê.

Adv. Paul Hoffman, direkteur van die Instituut vir Verantwoordbaarheid in Suider-Afrika, het gister beaam dat geld hier die hardste gepraat het en ENB “nie kliënte wou verloor nie”.

Die ANC se “oorreaksie” op die veldtog verklaar hoekom groot sakeondernemings “eerder laaglê as om die regering te kritiseer”.

“Die ANC beperk ons demokratiese ruimte, want hulle is uiters sensitief en onverdraagsaam teenoor mense wat van hulle verskil.”

’n Ingeligte binne die ANC het aan Rapport gesê ENB se veldtog het getuig van “politieke amateuragtigheid”, want die ANC is “een van hul grootste kliënte”.

“Wat het hulle gedink?”

Selfs Thero Setiloane, uitvoerende hoof van Besigheidsleierskap Suid-Afrika, wat namens groot ondernemings met die regering vergader, het aan Rapport gesê die sakegemeenskap moet kritiek liefs regstreeks “en nie deur die media nie” aan die regering rig.

Hierteenoor het ENB se veldtog neergekom as “politieke posisionering”, volgens die politieke ontleder Aubrey Matshiqi.

ENB se veldtog is geskoei op ’n meningspeiling onder 1 360 skoolkinders en studente in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.

Hoewel die meeste jongmense gesê het hulle is patrioties en hoopvol op ’n blink toekoms, had hulle min ooghare vir die land se politieke leiers en is hulle moeg vir “leë beloftes”.

Ander kwelpunte het ingesluit misdaad, die onderwysstelsel en “afbrekende, gierige en korrupte” politici.

ENB het gister geweier om verdere kommentaar te lewer óf hom teen die aantygings te verweer.

Jordaan het net getwiet hy gaan nie bedank nie.
 

No comments:

Post a Comment