Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou: Skenk ook ons die krag, o Heer!
Om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vadere Vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, Teen die hele wereld vry. Soos ons vadere vertrou
het, Leer ook ons vertrou, o Heer: Met ons land en met ons nasie Sal dit wel
wees, God regeer.

Stuur gerus goeie berigte en foto's na dieousuidafrika@yahoo.com
Facebook groep --> http://www.facebook.com/johanpottie.potgieter?ref=tn_tnmn#!/pages/Die-ou-Suid-Afrika-nuus/116236538438826

Sunday, January 27, 2013

Hospitaal-trauma

2013-01-25 23:02


Daar is “belangriker” mense wat hulle moet help.

So het ’n personeellid van die Kalafong-hospitaal se kraameenheid glo gesê toe Cindy Esterhuizen (19) van Pretoria gesmeek het vir ’n keisersnee omdat sy ’n stuitligging-baba verwag het.

Baba Tynisha is agt uur later vaginaal verlos en minder as twee dae later dood.

Esterhuizen, van Andeon, was meer as 37 weke swanger toe haar water gebreek en sy op 21 Desember kort voor 05:00 by die hospitaal aangekom het.

Dit was drie dae voordat Janine Meiring (33) van Pretoria-Tuine se vroeggebore baba, Donovan, in dieselfde eenheid op sy kop geval en later dood is.

Esterhuizen het vandeesweek gesê sy en die dokters het geweet sy verwag ’n “brugbaba”.

So word in die volksmond verwys na babas wat kort voor geboorte met hul boudjies pleks van die kop ondertoe lê.

“Ek het dadelik gesê dit is ’n brugbaba en ek moet ’n keisersnee kry, maar ’n vrou het gesê daar is belangriker mense in die teater.”

Volgens Esterhuizen het die personeel eers teen 11:00 begin aandag gee toe haar kontraksies al vier minute uit mekaar was.

Sy moes normaal kraam omdat daar glo nie ’n teater beskikbaar was nie.

Tynisha is omstreeks 14:00 boudjies eerste gebore.

Volgens Tyrone Venter (21), Tynisha se pa, het haar kop sowat tien minute lank vasgesit voordat sy met behulp van instrumente verlos is.

Sy het nie geskree nie en is na die waakeenheid geneem waar haar toestand effens verbeter het, het hy gesê.

Ná ’n skielike terugslag is Tynisha in die vroeë oggendure van 23 Desember dood.

Venter het gesê hy het in haar laaste ure by haar gebid, maar ’n personeellid het hom gevra om op te hou omdat hy Tynisha “irriteer”. ’n Veiligheidswag is toe geroep om hom daar uit te kry.

“ ’n Ruk daarna het die dokter uitgekom en gesê ons moet ons baba groet, sy is weg.”

Hulle het die doodsertifikaat op die begrafnis gekry en later gesien die doodsoorsaak is aangedui as “natuurlik”.

Meiring het vroeër aan Beeld gesê luidens haar Donovan se eerste doodsertifikaat was hy ’n doodgebore swart baba. Op ’n tweede is suurstoftekort en op ’n derde vroeggeboorte as oorsake aangedui.

Sy kopbeserings is volgens haar nie gemeld nie.

Volgens dr. Lancelot Phala­tsi, hospitaalhoof, word Donovan se dood ondersoek.

Die hospitaal vergader Maandag ook met Esterhuizen oor Tynisha se dood.

Die Gautengse departement van gesondheid het nie op Beeld se versoek vir statistieke oor Kalafong se babasterftes in die feestyd gereageer nie.


Babasterftes in staatshospitale
- Die regering se “Saving Babies”-verslag vir Januarie 2008 tot Desember 2009 dui aan dat meer as 5 500 babas jaarliks weens geboortetrauma of suurstoftekort voor of tydens geboorte sterf.
- 74% van dié babas het meer as 2,5 kg geweeg.
- Die navorsers het bevind 46% van alle kraamverwante sterftes onder babas in staatshospitale was voorkombaar.
- Dit is onder meer omdat hospitale nie die nodige geriewe het nie, ’n personeeltekort het en weens vervoerprobleme.
- Sowat 35 uit elke 1 000 babas wat in Suid-Afrikaanse staatshospitale gebore word, sterf voor, tydens of kort ná geboorte.


Cindy Esterhuizen kyk na foto’s van haar baba, Tynisha, wat kort ná haar geboorte dood is.
Foto: Lisa Hnatowicz

No comments:

Post a Comment