Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou: Skenk ook ons die krag, o Heer!
Om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vadere Vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, Teen die hele wereld vry. Soos ons vadere vertrou
het, Leer ook ons vertrou, o Heer: Met ons land en met ons nasie Sal dit wel
wees, God regeer.

Stuur gerus goeie berigte en foto's na dieousuidafrika@yahoo.com
Facebook groep --> http://www.facebook.com/johanpottie.potgieter?ref=tn_tnmn#!/pages/Die-ou-Suid-Afrika-nuus/116236538438826

Monday, October 1, 2012

Oorlogswolke aan’t opbou

2012-09-26 23:02
Die retoriek in die Midde-Ooste klink al hoe oorlogsugtiger. Kan ’n oorlog nog afgewend word of is die punt van onomkeerbaarheid al bereik? Leopold Scholtz tas na ’n antwoordWOORDE is warm lug. Liewer kwaai woorde as daadwerklike geweld. Maar woorde kan ook wapens word. Soms kan ’n woordestryd só kwaai word dat alle kante hulself as’t ware in ’n hoek toeverf waaruit hulle nie meer kan kom nie.

As Iran en Israel nog nie in dié posisie is nie, is hulle vinnig op pad daarheen. Dit is die enigste moontlike gevolgtrekking as ’n mens die wedersydse geskel tussen Teheran en Jerusalem bekyk na aanleiding van die klaarblyklike ontwikkeling van kernwapens in Iran.

Aan die een kant het Iran wel deeglik ’n sekere grens oorskry met die uitlatings van verskeie hooggeplaaste offisiere die laaste tyd.

Om mee te begin het genl. Amir-Ali Hadjizadeh, bevelvoerder van die Iranse lugmag, Israel verlede Sondag die eerste keer met ’n voorsprong-aanval gedreig.

As Iran agterkom dat Israel alle voorbereidings vir ’n lugaanval op die Iranse kerninstallasies getref het, sal hy nie wag nie. Hy sal éérste slaan, het Hadjizadeh op Iranse TV verklaar.



Derde Wêreldoorlog

Hy het met die “Derde Wêreldoorlog” gedreig: “Ons kan ons nie voorstel dat die Sionistiese regime (Israel) ’n oorlog sonder ondersteuning van Amerika begin nie. Daarom sou ons ons in so ’n geval in oorlog met albei bevind en ons sou in konflik met Amerikaanse steunpunte wees.”

Hy het bygevoeg dat sake dan baie onvoorspelbaar sal word en dat dit tot die Derde Wêreldoorlog kan lei.

Kort daarvoor het genl. Mohammed-Ali Djafari, bevelvoerder van die Iranse Revolusionêre Garde, gesê as Iran ná ’n Israelse aanval terugslaan, sal daar níks van die land oorbly nie. Hy het gesê dis absoluut seker dat daar ’n oorlog gaan wees; al wat onseker is, is wanneer.

In die algemeen het religieuse leiers, soos ajatolla Ali Chamenei, en pres. Mahmoed Ahmadinedjad ook meermale ekstreme geluide laat hoor.

Israel is ’n “kankerswelsel” wat radikaal uitgesny moet word, het Chamenei al gesê, terwyl Ahmadinedjad laat weet het Israel “moet van die kaart gevee word”.

Andersyds het Benyamin Netanyahu, Israelse premier, onlangs gewaarsku dat Iran net ses tot sewe maande weg is van die vermoë om self kernwapens te bou.

Hy het op die Amerikaanse TV-kanaal NBC gesê pres. Barack Obama moet ’n duidelike “rooi lyn” trek waaroor Iran nie mag gaan sonder om militêre aksie uit te lok nie.



China

Obama self is om verskeie redes nie lus vir ’n konflik met Iran nie. Hy kyk na China, Amerika se grootste strategiese mededinger op lang termyn, en is besig om die Amerikaanse veiligheidstrategiese fokus langsamerhand van die Midde-Ooste na Oos-Asië en die Stille Oseaan te verskuif. (Lees Pres. Obama waarsku Iran in Wêreld)

Nóg ’n oorlog met ’n Moslemland pas nie in dié fokusverskuiwing nie. En bowendien wil Obama nie hê dat die verskille tussen die Islam en die Weste op ’n allesomvattende konfrontasie uitloop nie.

Hierby kom nog die feit dat Obama graag herkies wil word en dis onseker hoe die kiesers op ’n oorlog sal reageer.

Volgens verskeie kenners het Netanyahu ’n “obsessie” oor die Joodse volksmoord in die Tweede Wêreldoorlog, toe Adolf Hitler se Nazi’s ’n geraamde 6miljoen Jode uitgewis het. Hy vrees as mense soos Chamenei en Ahjmadinedjad vry spel kry, hulle kan probeer voltooi wat Hitler begin het – en dus moet Iran gekeer word nog voordat hy kan toeslaan.

Immers, ’n kernbom wat bo die dig bevolkte Tel Aviv ontplof, kan die grootste deel van die Israelse bevolking binne sekondes uitwis.



Politieke besluit

Die Amerikaanse inligting is dat Iran wel deeglik werk aan ’n vermoë om kernwapens te vervaardig, maar dat die politieke besluit om die finale stap te doen nog nie geneem is nie. Dit sal die leiers egter pas om by die stadium uit te kom waar alle voorbereidings getref is en waar dit slegs ’n kopknik sal verg om tot die bou oor te gaan.

Die vraag is hoe om daarop te reageer.

Netanyahu oefen sterk druk op die Obama-administrasie uit om die leiding met ’n reeks lugaanvalle te neem. Maar as Obama nie wil bes gee nie, neig Netanyahu daartoe om eensydig daarmee te begin in die hoop om ’n momentum te skep wat die Amerikaners sal saamsleep.

Feit is – en die Amerikaners het dit meermale aan die Israeli’s gestel – dat die Israelse lugmag nie die Iranse kernprogram op eie houtjie sal kan uitskakel nie. Hy sal met groot moeite ’n eerste aanval kan uitvoer, maar ’n langdurige, volgehoue reeks aanvalle is nodig. Die Amerikaanse militêre kenner Anthony Cordesman van die Sentrum vir Strategiese en Internasionale Studie het in ’n onlangse omvattende studie daarop gewys dat minstens 28 teikens aangeval sal moet word. Dit sal ’n mag van minstens 100 vliegtuie – bomwerpers, begeleidende vegters, lugtenkers, onbemande vliegtuie – verg.

Net een land is daartoe in staat. Dis Amerika, sê Cordesman.



Terreuraanvalle

Hy verwag nie veel van die Iranse konvensionele verdediging (die land se lugmag of lugafweervermoë) nie. Maar Iran sal met “asimmetriese middele” terugslaan: Terreuraanvalle op Amerikaanse en Israelse teikens, selfmoordbootjies teen Amerikaanse oorlogskepe in die Persiese Golf, die lê van mynvelde in die strategies belangrike Straat van Hormoes, ensovoorts.

Cordesman gaan egter nog verder. Hy wys op die ontwrigting van die olietoevoer na die Weste en die wêreldekonomie. Niemand kan voorspel hoe ’n botsing Iran se reaksie sal bepaal nie, of die spanning tussen Soenniete en Sjiïete of die gebeure in Irak en Sirië nie: “Verskeie duisende jare se geskiedenis versterk die lesse van Afganistan en Irak oor die beperkings van militêre mag en stel dit duidelik dat die groot strategie in die ware wêreld grotendeels bestaan uit die onaangename uitwerking van die wet op onbedoelde gevolge.”

Boonop sal enige lugaanvalle, selfs die uitgerekte veldtog van minstens 30 dae wat noodsaaklik is, die Iranse program net hoogstens ’n dekade vertraag, skryf hy.

In dié stadium kry ’n mens nie die indruk dat Netanyahu eensydig gaan optree nie. Nie net wys peilings dat die Israelse publiek teen sulke aanvalle gekant is nie; selfs sy eie kabinet is diep verdeeld.

Maar die geskiedenis wys dat volgehoue harde woorde ’n histeriese klimaat kan skep waarin die finale stap in ’n oorlog in net ’n klein treetjie kan wees. En alles dui daarop dat dié oorlog ’n lelike een gaan wees.

- Volksblad

http://www.volksblad.com/Aktueel/Nuus/Oorlogswolke-aant-opbou-20120926

No comments:

Post a Comment