Johannesburg. – Die meerderheid matrikulante kan nie in diens geneem word nie, het Solidariteit Dinsdag gesê.
“Skole berei nie leerlinge, selfs dié wat deurkom, voor vir die arbeidsmark nie,” het Solidariteit in ’n verklaring gesê.
Slegs vier uit elke tien matrikulante wat die arbeidsmag binnetree ná matriek sal na verwagting werk kry, terwyl die res moontlik deel sal word van die werkloosheidstatistieke van Suid-Afrika.
Die jaarlikse verslag oor die vooruitsigte vir 2010 se matrikulante wat deur Solidariteit bekend gemaak is, het gewys dat, soos in die vorige twee jaar, 2011 ’n moeilike jaar vir Suid-Afrikaanse werkers en werksoekers gaan wees, het die vakbond gesê.
“Werkgeleenthede sal beperk bly. Matrikulante wat hoop om die arbeidsmark dadelik binne te tree sal heel moontlik onder aan die loopbaanleer moet begin,” het dr. Dirk Hermann, adjunk sekretaris-generaal van Solidariteit, gesê.
’n Matrieksertifikaat sal volgens Hermann nie aan werksoekers ’n regte voordeel bied nie.
“Die huidige stand van die arbeidsmark gaan reeds uitdagend wees vir vanjaar se matrikulante. Wat die stand van sake erger maak is dat ’n skoolopvoeding nie leerlinge behoorlik toerus vir die arbeidsmark nie," het hy gesê.
“Verder meer, die slaagsyfer van vakke soos wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskappe, wat bydra tot indiensneembaarheid, is ongelooflik laag. Hoewel die slaagsyfer van huistaalvakke en lewensoriëntering baie goed is, is dit nie die tipe vakke wat leerlinge met bemarkbare vaardighede toerus nie.”
Die navorsing het gewys dat die meerderheid matrikulante nie vaardig genoeg geword het in kritiese vakke soos wiskunde nie.
Van meer as 552 000 matrieks wat die matriek-eksamen in 2009 geskryf het, het slegs 60,6% geslaag. Slegs 24,2% (133 789) van die hele groep het wiskunde met ’n punt hoër as 30% geslaag. Slegs 9,6% van die groep (52 886) het deurgekom met ’n punt hoër as 50%, terwyl slegs 1,6% ’n onderskeiding vir die vak behaal het.
“As die persentasies vergelyk word met die totale aantal leerlinge wat skool begin het in 1998, en wie in 2009 moes matrikuleer, lyk die prentjie selfs donkerder,” het Hermann gesê.
Slegs 0,6% van die 1,44 miljoen leerlinge wat skool begin het 12 jaar gelede het ’n onderskeiding vir wiskunde in 2009 behaal.
“Dit is moontlik dat soortgelyke syfers vir 2010 se martikulante sal geld, wat nie goed lyk vir leerlinge wat hul resultate vandeesweek ontvang nie,” het Hermann gesê.
Die laagste gemiddelde slaagsyfer wat ’n matrikulant kan kry is 30%, wat twyfel oor die waarde van ’n matrieksertifikaat laat ontstaan.
“Jy doen ’n 18-jarige persoon 'n onreg aan deur hom te vertel hy is reg vir verdere studies gegrond op ’n punt van 30%. Matrikulante kry ’n klop op die skouer, want hulle laat die departement van onderwys se statistieke goed lyk deur hul deelname aan ’n stelsel van middelmatigheid, terwyl die 12 jaar wat hulle in skool spandeer het hulle nie voorberei het vir ’n loopbaan nie,” het Hermann gesê.
Verdere opleiding is die beste kans om werkloosheid te vermy.
Hermann het gesê studies het gewys dat werknemers met ’n tersiêre kwalifikasie die minste geraak is deur die arbeidsresessie. “Tersiêre kwalifikasies bied ’n sekere hoeveelheid beskerming en werksekerheid in moeilike tye.
“Hoewel dit beter is om ’n matrieksertifikaat te hê as geen kwalifikasie nie, verseker dit nie werksekerheid nie."
Om kanse vir werksekerheid te verhoog, is loopbane waar daar vaardigheidstekorte is die beste keuse.
“Kwalifikasies in die mediese, ingenieurswese, inligtingstegnologie, finansiële en tegniese velde word veral gesoek weens vaardigheidstekorte,” het Hermann gesê.
Die departement van basiese onderwys maak die matriekuitslae Donderdag bekend.
Die Onafhanklike Eksamensraad (IEB), wat ’n onafhanklike beoordeling-agentskap is, het gesê dat meer as 98% van die kandidate sy nasionale senior sertifikaat (NSC)-eksamen geslaag het.
In 2010 het slegs 8 285 leerlinge van slegs 172 skole die IEB- nasionale senior sertifikaat-eksamen geskryf. – I-Net Bridg
No comments:
Post a Comment