
Volgens Geldenhuys wil dit voorkom asof daar steeds meer werknemers of voormalige werknemers, betrokke is by aanvalle op boere.
“Ongegronde beskuldigings doen die rondte in hierdie kringe ondermeer dat boere werkers uitbuit, verantwoordelik is vir afsettings vanaf plase en grond gesteel het. Hierdie gerugte skep die persepsie dat boere ‘n klomp misdadigers is en dat daar ongenadelik teenoor boere opgetree kan word. Hierdie verwronge persepsie kan lei tot die geweldige wreedheid wat tydens plaasaanvalle voorkom”.
TLU SA statistiek wys dat plaasmoorde verlede jaar met een voorval gedaal het, in vergelyking met 2011. “In 2012 was daar 51 moorde op plase teenoor 52 in 2011. Die maatstaf lê egter in die aantal plaasaanvalle. In 2012 het die aantal aanvalle gestyg met 141 teenoor die 85 van die vorige jaar."
"Dit is dus duidelik dat die aanslag op boere verhewig. Die afname in noodlottige aanvalle kan waarskynlik toegeskryf word aan versterkte paraatheid vanaf boere en die feit dat al meer boere aanmeld vir selfverdedigingskursusse”.
Vanjaar is reeds 9 plaasaanvalle aangemeld waartydens 3 mense gesterf het. TLU SA het ‘n beroep gedoen op boere om veiligheidsnetwerke dringend op ‘n gereedheidsbasis te kry.
“Cosatu waarsku dat ‘n grondoorlog aan die kom is. As boere noodgedwonge werkers moet aflê as gevolg van die onwettige protesaksie, kan dit veroorsaak dat hulle teikens word van voormalige werknemers. Hierdie mense sal dus kennis dra van die betrokke boer se bewegings en sekuriteitsplan. Boere moet op ‘n gereelde grondslag ‘n evaluering van veiligheidstelsels doen”, sê Geldenhuys.
Verder het Geldenhuys boere aangemoedig om selfverdedigingsopleiding te ondergaan. “ Sulke opleiding is beskikbaar by TLU SA. Boere het geen keuse as om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie veiligheid nie. Ons poog al geruime tyd om met die SAP ingesprek te tree oor landelike veiligheid. Tot dusver val die pleidooi op dowe ore”.
No comments:
Post a Comment