’n BOER het gister ’n klag van roekelose en nalatige bestuur teen ’n polisiekapelaan en -bestuursinstrukteur van die Boithuso-polisiekantoor ingedien nadat hy die polisieman oor sy slegte gedrag op die pad gekonfronteer het.
Riaan Niemand, ’n boer van die Rouxville-distrik en oud-polisieman, vertel hy het gisteroggend anderkant Reddersburg op ’n grondpad (’n ompad met ’n spoedbeperking van 40km/h) gery toe ’n polisievoertuig met ’n spoed by hom verby jaag.
“Die klippe het my voorruit beskadig,” sê hy.
Hy het later die polisieman weer by die eerste stop-rypunt op die N6 teëgekom.
“Ek het uit my bakkie geklim en hom gaan konfronteer. Sy oë was toe en sy ken het op sy bors gerus. Hy het nie gereageer toe ek hom roep nie.”
Niemand sê hy het sy Leatherman-knipmes uitgehaal en teen die beampte se voorwiel getik om die beampte se aandag te trek.
“Hy het eers baie gemompel. Ek kon sien sy oë is wasig en bloedbelope.”
Die kapelaan het hom glo vererg en herhaaldelik probeer om Niemand om te ry.
Verskeie ooggetuies het die petalje sien afspeel.
Daarna het die kapelaan glo die padtekens verontagsaam en al die motors verbygesteek.
Niemand sê hy het by die Smithfield-polisiekantoor ’n klag teen die polisieman ingedien.
“Die polisieman was duidelik onbeholpe wat die bestuur van ’n voertuig betref. Dit was vir my ’n openbaring om te besef dat dié man ander polisiebeamptes moet leer bestuur.”
Sers. Yanga Ngcukana, polisiewoordvoerder, het gister die voorval bevestig, asook dat die beampte by die Boithuso-opleidingsentrum werk en ’n kapelaan is.
Hy het egter ontken dat die kapelaan onder die invloed van drank was. Hy sê die kapelaan is getoets.
Hy het ook gesê Niemand se voertuig is nie beskadig nie.
Volksblad
http://m.news24.com/volksblad/Suid-Afrika/Nuus/Polisie-se-kapelaan-wil-boer-glo-omry-20120830
No comments:
Post a Comment