2012-09-07 21:58
So het Nicky Schimansky, die Bothas se buurvrou in Muldersdrift aan die Wes-Rand en ’n hegte familievriendin, gister gesê.
“Die gebied is maar gevaarlik. Dit was omtrent die vierde ernstige geweldvoorval wat vanjaar in die nabye omgewing plaasgevind het.”
Schimansky het Woensdag omstreeks 18:45 gehoor hoe Alyssa se ma, Liesl, histeries oor die gemeenskapspolisiëringsforum se radiostasie skree dat iemand haar asseblief moet help. Schimansky was een van die eerste mense wat daar aangekom het.
“Alyssa was nog by haar volle bewussyn. Sy het eers net gekreun en gesê dat sy baie seer het, maar het mettertyd baie kleur begin verloor en al hoe minder gepraat,” het Schimansky gesê.
Volgens haar was die eerste paramedici binne sowat ’n halfuur daar en het hulle tussen ’n uur en 90 minute lank gespook om Alyssa te red voordat hulle haar uiteindelik dood verklaar het.
Daar was uiteindelik drie of vier ambulanse.
Paramedici het tussen Alyssa, haar 17-jarige sussie, Megan, en hul pa, Anton, rondgehardloop, het Schimansky gesê.
Megan se wonde het Vrydag baie opgeswel en die dokters moes haar weer ’n drup gee, maar sy sterk goed aan.
Haar pa is steeds in die waakeenheid van die Krugersdorpse private hospitaal. Die dokters sal volgens Schimansky eers teen Sondag of Maandag weet wat sy kans op oorlewing is.
Die Botha-gesin het gister by monde van hul berader, Lee Lerm, gesê die dokters moes een van Anton Botha se niere en ’n deel van sy lewer en dikderm verwyder, berig Louise Ferreira.
Die familie sal eers begrafnisreëlings tref wanneer Anton in staat is om die begrafnis by te woon.
http://m.news24.com/beeld/Suid-Afrika/Nuus/Rowers-keer-terug-om-kind-pa-weer-te-skiet-20120907
No comments:
Post a Comment